SKOOLDRAG
Dit is die trots van elke leerling om die draer van sy/haar skooldrag te wees. Ons skool is gesteld op sy kleure en leuse wat die strewe van hierdie skool simboliseer.
Om, in die lig van bostaande, reg aan ons skoolkleure te laat geskied, sal die volgende reëls onder alle omstandighede bindend wees:
a. Alle seuns en dogters sal by toelating die nodige skooldrag aanskaf en dit binne en buite die skool met waardigheid dra.
b. ‘n Skoolkleurbaadjie mag onder geen omstandighede tesame met grimering, slenterbroeke, sandale of enige kledingstukke, wat nie tot die skooldrag hoort nie, gedra word.
c. Skooldrag mag onder geen omstandighede aan persone wat nie leerlinge van hierdie skool is nie, geleen, oorgedra of verkoop word nie.
Dogters
Skoolbaadjie met sakwapen
Koningsblou romp (Lengte: 4 cm bokant knie)
Skooldas gedurende winter
Koningsblou trui (lang- of kortmou)
Koningsblou oortrektrui (pullover)
Koningsblou kort kouse (somer)
Koningsblou broekiekouse (winter)
Swart skoolskoene
Grys langbroek
Atletiekbroek
Atletiekbloes
Skoolsweetpak
(by skool beskikbaar)
Seuns
Skoolbaadjie met sakwapen
Wit hemp
Skooldas
Grys skoolkouse
Grys langbroek of grys kortbroek
Swart toeryg skoolskoene
Amptelike atletiekdrag
Skoolsweetpak (by skool beskikbaar)
Skoolsportdrag vir ander sportsoorte
Koningsblou trui (lang- of kortmou)
Verskaffers
Peephole
78 Market Street, Boksburg
Tel: 011 917 9685
School & Leisure
K90 Sentrum
Tel: 011 823 4055
LEERDERS SE ALGEMENE VOORKOMS
Dogters
Grimering: Grimering saam met skooldrag is verbode. Dit sluit in onderlaag, maskara en wangrooisel. Geen permanente grimering word toegelaat nie.
Naels: Naels moet kort en skoon wees en slegs deurskynende naellak is toelaatbaar.
Juwele: Die enigste juwele wat toegelaat word, is ‘n polshorlosie, sonder “charms”/versierings en een paar oorkrabbertjies (knoppie-tipe of klein ringetjies) wat in die onderste gaatjies gedra moet word. Die dra van oorbelle in ‘n tweede gaatjie, moet vir vakansies gereserveer word.
Hare: Haarstyle moet by ‘n skooldogter pas, met ander woorde die hare moet skoon en netjies wees, nie in die oë hang nie, nie gekleur wees nie, ook nie ligstrepies “highlights” in hê nie, of uitermate gekrul wees nie en moet vry wees van gel. Hare wat vasgemaak kan word, moet in poniesterte of vlegsels vasgemaak word met behulp van ‘n lint of ‘n rekkie in skoolkleure (rooi, wit, geel en koningsblou). Geen skewe ponies nie. “Steps” en stertjies is nie toelaatbaar nie.
Bogenoemde reëls geld ook ten opsigte van atletiek en ander sportsoorte waaraan daar deelgeneem kan word as verteenwoordiger van die skool. Bogenoemde skoolreëls geld ook vir sivviedae.
Seuns
Hare moet netjies en kort gekap wees. Hare op die kop mag nie langer as vingerdikte wees indien “gel” gebruik word nie. (Geen “spikes” nie). Hare moet skoon om die ore en nek gesny wees. Die lengte van die hare moet in verhouding gesny wees. Bakkebaard mag nie langer as die middel van die oor gegroei word nie. Die insny van trappe (steps) is nie toelaatbaar nie. Die kleur of krul van hare word nie by seuns toegelaat nie. Van seuns word verwag om gereeld te skeer wanneer nodig. Geen juwele word toegelaat nie. Geen “Mowhawks” word toegelaat nie.
Die voorkoms van ons leerders word in ‘n baie ernstige lig beskou. Indien ‘n leerder se voorkoms nie na wense is nie, word hy/sy gewaarsku. Indien dit nie die volgende dag reggestel is nie, word die betrokke leerder op detensie geplaas of toelating geweier tot sy/haar voorkoms reggestel is.
SKOOLREËLS
‘n Gedetailleerde uiteensetting van die skoolreëls is in die leerlinge se dagboeke.
Waardevolle items
Leerlinge word gemaan om nie waardevolle items skool toe te bring en dit dan in tasse of baadjiesakke te los nie. Indien groot bedrae geld skool toe gebring moet word, word dit direk na opening by die betrokke onderwyser of finansiële kantoor inbetaal.
Opdragte van personeel moet te alle tye gehoorsaam word.
Leerlinge moet personeel altyd hoflik en met die nodige respek behandel. Daarom staan seuns nie met hul hande in hul broeksakke met ‘n personeellid en praat nie.
Huiswerk
Die leerling se persoonlike rooster moet voor in sy/haar huiswerkboek geplak wees. Persoonlike besonderhede voor in die huiswerkboek moet voltooi word. Opdragte moet gereeld, netjies en in ink gedoen word. Die versuim om huiswerkopdragte uit te voer, is ‘n oortreding. As riglyn vir die tyd wat daagliks aan huiswerk bestee moet word, geld die volgende:
Graad 8: 1½ – 2 uur
Graad 9: 2 – 2½ uur
Graad 10: 2½ – 3 uur
Graad 11 & 12: 3 uur
Skoolbesoek
Stokkiesdraai: Die gevare verbonde aan hierdie praktyk kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Daarom word stokkiesdraaiery in ‘n baie ernstige lig beskou, wat selfs tot skorsing of uitsetting kan lei.
Siekte: Ouers word versoek om leerlinge tuis te hou as hulle werklik siek is. Dit dien geen doel om skool toe te kom en dan heeldag in die siekekamer te lê nie. Aan die ander kant moet ‘n kind ook van vroeg af leer dat daar nie sommer vir elke bakatel by die huis gebly word nie. Leerlinge wat by die skool siek word, moet hulle toestand onder die aandag van die betrokke vakonderwyser/ algemene kantoor bring en gaan onder geen omstandighede self na die siekekamer toe nie. Reëlings om u kind te kom haal a.g.v. siekte word deur die kantoorpersoneel getref. Leerlinge mag nie self ouers deur die loop van die dag skakel nie.
Afwesigheidsbriewe: Indien ‘n leerling afwesig was, moet daar ‘n aanvaarbare skriftelike verskoning vanaf die ouer ingedien word op die eerste dag wat die leerling weer die skool besoek. Hierdie brief word by die betrokke klasvoog ingedien. Waar leerlinge drie of meer opeenvolgende dae afwesig is, word ‘n mediese sertifikaat verlang. ‘n Mediese sertifikaat word ook verlang vir enige afwesigheid gedurende ‘n eksamen of afwesigheid tydens ‘n toets. Die leerling se naam en van moet duidelik daarop verskyn. Die dokter moet ook stipuleer dat die leerder nie in staat is om toets/eksamen te skryf nie. Waar laasgenoemde nie ingehandig word nie, sal ‘n leerling nul (0) vir die betrokke toets /vraestel kry.
Eksamen en Toetse: Leerders is onderworpe aan die toets- en eksamenreëls soos vervat in die skool se beleid ten opsigte van toetse en eksamens. Alle skoolbeleide is by die Hoof beskikbaar vir insae.
Skoolure: Die skool begin soggens om 07:10 en die skooldag duur tot 14:00. Geen leerling mag die skoolterrein verlaat sonder skriftelike toestemming van die Hoof of die Adjunkhoofde nie. Versoeke vir sodanige verlating van die terrein, moet skriftelik deur die ouers aan die skool gerig word en hierdie briewe moet die kantoor die vorige dag of die betrokke oggend voor skool bereik.
Afsprake: Afsprake by dokters of tandartse moet verkieslik nie gedurende skoolure plaasvind nie.
Vakansies: Amptelike vakansies begin gewoonlik om 11:00 en versoeke om vroeër te vertrek, kan ongelukkig nie oorweeg word nie.
Tasse
Om handboeke te beskerm, moet leerlinge tasse hê wat versterkte afskortings bevat.
Handboeke
Handboeke is en bly die eiendom van die skool en word op ‘n leenbasis aan leerlinge verskaf. Leerlinge is aanspreeklik vir alle handboeke aan hulle uitgereik en moet verlore en vernielde boeke self vervang. Die koste ten opsigte van vernielde en verlore handboeke beloop R300 per boek, betaalbaar by die finansiële kantoor.
Boodskappe en besoekers
Slegs dringende boodskappe sal deur die skool aan leerlinge oorgedra word.
Selfone en “Ipods”
Enige elektroniese toestelle word op eie risiko skool toe gebring en moet tydens skoolure af wees. Indien ‘n leerder se selfoon tydens klastyd deur ‘n personeellid geneem word, moet die leerder se ouer(s) dit persoonlik tydens skoolure in die algemene kantoor kom afhaal. Die leerder is ook welkom om dit persoonlik aan die einde van die kwartaal af te haal.
Skoolsaal
Geen leerders word in die saal sonder die toesig van ‘n onderwyser toegelaat nie. Die saal moet te alle tye netjies en skoon gelaat word.
Sosiale media
Enige kommentaar of optrede op enige sosiale netwerk waardeur die skool se goeie naam skade berokken word, word in ‘n baie ernstige lig beskou en sal tot dissiplinêre optrede lei. Indien die leerder sy reg op privaatheid wil uitoefen deurdat foto’s van hom/haar nie op die skool se sosiale media platforms gebruik word nie, moet die leerder die skool vooraf in kennis stel. Dit bly die leerder en ouer se verantwoordelikheid om die skool hiervan in kennis te stel.
Oortreding van skoolreëls
Die oortreding van enige skoolreël(s) lei tot die onmiddellike beëindiging van die voorreg tot busvervoer. Detensie vind Maandae na skool plaas en is verpligtend. Die herhaalde oortreding van skoolreëls kan lei tot ‘n dissiplinêre verhoor waartydens ‘n leerder geskors of in oorleg met die GDO, versoek word om die skool te verlaat.
Busvervoer
Leerders wat gebruik maak van busvervoer, soos verskaf deur die skool, is onderhewig aan die skool se beleid ten opsigte van busvervoer.
Sluitkassiebeleid
Leerlinge kan ‘n sluitkassie by die skool huur teen ‘n nominale jaarlikse koste van R 220 p.j. (2024).
Handboeke
Alle handboeke en skrifte word aan leerders verskaf.
Skryfbehoeftes
Geen skryfbehoeftelys word uitgereik nie. Die basiese samestelling van skryfbehoftes kan gevolg word.
‘n Voorgeskrewe sakrekenaar nl. Casio fx 82 ZA PLUS word wel aanbeveel.